Ons erelede is persone of instellings wat as gevolg van lang en waardevolle diens in belang van die Vereniging of van die filatelie as erelede verkies word. In die 73 jaar van die AFP se bestaan is nog slegs dertien erelede verkies.
1965 – Die Nasionale Kultuurhistoriese- en Opelugmuseum, Pretoria.
Die Nasionale Kultuurhistoriese- en Opelugmuseum en sy Seël-, Munte- en Medaljeafdeling het daadwerklike belangstelling getoon in en ondersteuning verleen aan die aktiwiteite van die destydse Afrikaanse Philatelistiese Vereniging van Pretoria. Nie alleen het die Museum hierdeur ‘n positiewe bydrae tot die uitbouing van ons Vereniging gemaak nie, maar ook seëlversameling in die algemeen daardeur bevorder. Erelidmaatskap is op 28 Julie 1965 aan die museum toegeken. Hierdie was ‘n geskiedkundige gebeurtenis, aangesien dit die eerste keer was dat die AFP ‘n erelid-toekenning gemaak het.
1967 – Mnr. C.J. Greeff ✞
Mnr. C.J. Greeff, ‘n stigterslid van die AFP, het deur sy voortgesette en getroue ondersteuning van die Vereniging tydens sy vroeë bestaansjare baie bygedra om die AFP op ‘n hegte basis te vestig. Hy het ‘n voorbeeld gestel deur sy gereelde deelname aan uitstallings en het waardevolle leiding as ondervoorsitter verleen. Sy senior posisie in die Staatsdiens het hom in staat gestel om bekendheid vir die jong Vereniging te werf en die beeld daarvan na buite uit te dra. Vir sy bydrae is erelidmaatskap op 1 Desember 1967 aan hom toegeken.
1970 – Mev. E.M.A. Stofberg ✞
Mev. E.M.A. Stofberg was een van die stigterslede van die AFP. Haar getroue bywoning van vergaderings, haar aktiewe deelname aan die bedrywighede van die Vereniging en haar hulp met sosiale verpligtinge het as navolgingswaardige voorbeeld vir ander lede gedien. Haar onbaatsugtige diens aan die AFP het nie ongesiens ons verbygegaan nie en op 2 Augustus 1970 is erelidmaatskap aan haar verleen.
1977 – Mnr. I.J. Bernhardi ✞
Mnr. I.J. Bernhardi het as stigterslid sy volle steun aan die AFP verleen. Hy het vir baie jare ‘n waardevolle bydrae as Penningmeester (vanaf 1953) en as Rondsenddiensbeampte (vanaf 1954) gelewer. Hierbenewens was hy ook betrokke by die Nuusbrief. Hy het sy huis meermale tot die beskikking van die AFP gestel vir informele en sosiale byeenkomste. Izak Bernhardi het hom as ware filatelis bewys en sy spesialis benadering tot versameling het as inspirasie vir baie lede gedien. Na ruim 25 jaar se diens aan en betrokkenheid by die Vereniging, is erelidmaatskap op 11 September 1977 aan hom toegeken.
1977 – Mnr. G.J. de Swardt ✞
Mnr. G.J. de Swardt kan met reg die vader van die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria genoem word. Hy was die hoofdryfveer agter die stigting van ‘n seëlvereniging vir die Afrikaanssprekendes van Pretoria en omgewing in Augustus 1951. Sy inisiatief, organisasievermoë, harde werk en toewyding het die Vereniging vinnig op die been gebring. Sy deurlopende betrokkenheid in die bestuur van die AFP het as aansporing vir ander lede van die Vereniging gedien. Hy was die eerste Sekretaris/Penningmeester, die eerste verteenwoordiger van die AFP in die Filateliese Federasie van Suider-Afrika (in Oktober 1952), Rondsenddiensbeampte (1953), was betrokke by die Nuusbrief en het hom beywer vir die totstandkoming van ‘n juniortak. Guillaumi de Swardt was vanaf 1954 tot 1967 met kort onderbrekings Voorsitter van die AFP. In die 26ste bestaansjaar van die AFP is welverdiende erelidmaatskap op 11 September 1977 aan hom toegeken.
1977 — Prof. H.L. Gonin ✞
As stigterslid het professor H.L. Gonin deur sy voorbeeld ander lede positief ingestel teenoor die bevordering van die belange van die AFP. Hy het altyd beïndruk met die kwaliteit van sy versamelings en uitstallings. As gevolg van sy groot seëlkennis het hy die AFP meermale tydens interklub-vasvrawedstryde verteenwoordig. Professor Gonin was by verskeie geleenthede die AFP se afgevaardigde na kongresse van die Filateliese Federasie. In 1967 is hy welverdiend as Voorsitter van die Vereniging verkies en hy het vir drie jaar die amp beklee. Hy is op 11 September 1977 vereer met erelidmaatskap van die AFP.
1987 – Mnr. A. van der Mey ✞
Mnr. A. van der Mey het as gevolg van sy lewendige belangstelling in filatelie en met sy uitstalprestasies die belange van filatelie binne en buite ons Vereniging gedien. So het hy in 1975 ‘n Goud-toekenning in die Paarl ontvang vir sy uitstalling “Nederland” en by AMPHILEX in Amsterdam in 1977 ‘n Versilwerde Brons-toekenning vir sy uitstalling “Nederlandse Kolonies”. Hy het ten alle tye die filatelie as stokperdjie bevorder deur sy hoogstaande uitstallings, sy kommentaar en sy gewaardeerde advies aan die AFP en sy lede. In Maart 1987 is mnr. Van der Mey beloon met erelidmaatskap.
Tydens die maand-vergadering gehou op Woensdagaand 25 Januarie 1989 het die AFP hulde gebring aan sy Erelede. Tydens die geleentheid was vier erelede teenwoordig (Hans Stronkhorst het in 2006 erelid geword.) Op die foto verskyn van links na regs: mnr. Arrie van der Mey, mnr. Guillaumi de Swart, mej. Antjie Ziervogel (Kultuurhistoriese Museum), mnr. Izak Bernardi en mnr. Hans Stronkhorst
2001 – Kapt. R.H. Harm
Robbie Harm ontvang op 29 Augustus 2001 erelidmaatskap (genoot) tydens die 50 jaar feesvieringe van die AFP. Hy is gebore in Berlyn en immigreer saam met sy ouers vanuit Nederland na Suid-Afrika. Hy volg ‘n suksesvolle loopbaan as offisier in die Suid-Afrikaanse Vloot. Sy lidmaatskap van die AFP begin in Oktober 1978 en vanaf 1981 (tot 2004) dien hy ononderbroke in die bestuur in verskeie portefeuljes, en veral as voorsitter vir 8 jaar. Sy onvermoeide ywer vir die bevordering van Afrikaans asook sy baanbrekerswerk in die stigting van Tematika SA (in 2000) verdien besondere vermelding. Sy versamelgebiede sluit in Swede, VSA, Nobelpryswenners en slagskepe. Hy is tans steeds aktief betrokke by die stokperdjie in die Wes-Kaap waar hy lid is van verskeie verenigings en ook die maandelike seëlskou in Durbanville organiseer.
2004 – Ds. JC Carstens ✞
Dis eers in 1978 wat Cassie Carstens begin om seëls te versamel en word lid van die AFP in 1979. In die 80-erjare skakel hy in by die Polokwane Seëlklub en word summier in Maart 1988 as sekretaris verkies met sy terugkeer na Pretoria en eerste bywoning van die AFP. Hy raak ook betrokke by die jeugwerk (Tshwane Seëlmaats) en die bestuur van die Filateliese Federasie van Suid Afrika (president 1999/2000 en argivaris). Hy word verkies tot voorsitter van die AFP in 2004 en neem sterk leiding in die Pretoria-streek met seëlskoue en skakeling. Op nasionale vlak lewer hy ook ’n aktiewe bydrae met sy gereelde kolom oor tematiese versameling in die SA Philatelist en ontvang ook twee keer die Federasie se toekenning vir uitstekende diens aan filatelie. Sy versamelgebiede sluit in inheemse bome, erediens, seekoeie en varke. Hy word tot AFP-genoot verkies in Maart 2004.
2006 – Mnr. JH Stronkhorst ✞
Hans Stronkhorst begin op 7 jaar om seëls te versamel. Hy immigreer vanuit Nederland in 1949 saam met sy ouers en raak betrokke by die AFP in 1974. Vanaf 1976 dien hy ononderbroke in die bestuur, as oudiovisuele beampte, penningmeester, rondsenddiensbeampte, voorsitter en ondervoorsitter (tot op datum is dit 35 jaar – ‘n rekord tydperk in die AFP). Hy versamel steeds Nederlandse seëls asook die Europese CEPT-uitgifte. Hy is ‘n kundige op RSA Eerstedagkoeverte en ook die TBVC-lande. Hy tree ook gereeld as beoordelaar op. As gevolg van hierdie lang en waardevolle diens word hy op 22 Maart 2006 verkies tot AFP-genoot.
2008 – Mev. P Heath
Petra Heath het as jong kind reeds op 10 jarige ouderdom in seëls begin belangstel. Sy het vroeg aangesluit by die destydse jeugklub van die AFP. Aktiewe versameling in 1984 in Nederland begin. Sy sluit in 1988 by die AFP aan waar sy spoedig betrokke raak in die bestuursaktiwiteite. Sy was die baanbreker met die stigting van die Centurion Seëlmaats en het ook vir 10 jaar Die Posduif behartig. Sy is ook betrokke by Tematika SA waar sy redakteur is van die internasionaal bekende lyfblad ThemNews. Haar versamelings is veral gerig op Suid-Afrikaanse Geskiedenis, waarvoor sy uitstekende toekennings op nasionale vlak verwerf het. As gevolg van hierdie lang en gewaardeerde diens in belang van die AFP word sy op 26 Maart 2008 tot genoot verkies. Tans is sy ‘n baanbreker op die gebied van innoverende uitstalmetodiek en verrig sy wondere met haar besondere unieke aanslag en insig.
2010 – Mnr. AE de Haaij ✞
Bram de Haaij begin op 8 jarige ouderdom in Nederland om seëls te versamel. Hy en sy gesin immigreer in 1970 na Suid-Afrika waar hy mettertyd aansluit by die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria. Hy is veral bekend vir sy besondere unieke Nederlandse versamelings. In die AFP het hy jare lank diens gelewer as rondsendbeampte en ook met die druk en versending van Die Posduif. Vir sy harde werk, lojale ondersteuning en voorbeeld van onbaatsugtige dienslewering word hy op 24 Maart 2010 aangewys as die twaalfde genoot van die AFP. Hy sterf aan breinkanker op Dinsdag 29 Maart 2011.
2023 – Mev. M Viljoen ✞
Marge het groot geword in ‘n huis waar haar ma seëls versamel het. Sy het vir Claude Malan gewerk en so haar kennis en ervaring van die seëlhandel opgedoen. Sy was vir jare lank self ‘n seëlhandelaar gewees. Sy het ‘n Goue Medalje met haar SWA-uitstalling op nasionale vlak behaal. Sy was ‘n beoordeellaar by verskeie streeks en plaaslike seëluitstallings gewee. Sy was lid van verskeie seëlklubs en studiegroepe deur die dekades en het in verskeie seëlvereningings se besture ook gedien. Sy was ook deel van die reëlingskomitees van verskeie nasionale seëluitstallings gewees. Sy woon ons vergaderings gereeld by en deel graag haar jare lange ervaring en kennis van filatelie met jonk en oud. Marge is verkies op Saterdag 18 Februarie 2023 as gevolg van haar lang en waardevolle diens in belang van filatelie in die algemeen.
2024 – Mnr. J.J. Joubert
Johan versamel seëls sedert sy skooldae op Balfour in Mpumalanga, waar hy in 1975 gematrikuleer het. As student het hy die filatelievereniging aan die Potchefstroomse Onderwyskollege gestig en opgebou tot een van drie aktiewe seëlklubs in Potchefstroom. Hy het ook ‘n belangrike rol vervul in die reëlingskomitee van die Potch 78 Nasionale Seëluitstalling wat daardie jaar in Potchefstroom gehou is.
Hy het vir die eerste keer nasionaal uitgestal by GEBEKS 80, waar hy ‘n Silwerbrons-toekenning ontvang het vir sy versameling “Bewakers van ons grense.” Hierdie versameling, wat hy oor ‘n periode van meer as 30 jaar opgebou het, het hom ‘n Vergulde Silwer besorg by die 2022 Internasionale Seëluitstalling in Kaapstad, en ‘n Groot Goud sowel as die Poskantoortrofee by die Nasionale Seëluitstalling in Pietermaritzburg in 2024. Hy stal ook die volgende versamelings op nasionale vlak uit : Undelivered mail labels of the RSA; Express Mail en Certified Mail. Johan het verskeie nasionale toekennings, medaljes en trofeë ontvang vir sy uitstallings. Hy speel deur die jare ‘n aktiewe rol in georganiseerde filatelie en dien op die Bestuurskomitee van die Filateliese Federasie van Suid-Afrika. Hy woon gereeld die AFP se maandvergaderings by, waar hy telkens insiggewende bydraes lewer tot almal se kennisverryking. In sy passie vir die bevordering van filatelie, het Johan in 2022 verskyn in ‘n insetsel van die Kwêla-aktualiteitsprogram op Kyknet oor die Internasionale Seëluitstalling in Kaapstad. Hy het deur die jare ook verskeie artikels gepubliseer as outeur of mede-outeur, en het in 2018 saam met Dr. Gerhard Kamffer RDPSA die Jack Hagger-trofee ontvang.
Johan is op grond van sy lang en waardevolle diens in belang van filatelie in die algemeen, en in die besonder vir sy bydrae tot die ontwikkeling en bevordering van moderne Suid-Afrikaanse filatelie deur middel van uitstallings, publikasies en voordragte, beide in Suid-Afrika en internasionaal, verkies. Johan se vermoë om versamelings van merkwaardige gehalte saam te stel vanuit die sogenaamde “snippermandjie”, wat die filateliese nalatenskap van Suider-Afrika bewaar en ontsluit vir ander se kennisverryking, is lofwaardig.
GRONDWET VAN DIE AFRIKAANSE FILATELIEVERENIGING VAN PRETORIA
Goedkeuring van Grondwet: Hierdie Grondwet is op die Algemene Jaarvergadering, gehou op 16 Mei 2020, goedgekeur.
Artikel 1: Naam
Die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria (hierna verwys as die Vereniging)
Artikel 2: Voertaal
Die voertaal van die Vereniging is Afrikaans.
Artikel 3: Doelstellings
Die doelstellings van die Vereniging is om ;
3.1. die studie en beoefening van filatelie deur lesings en die uitstal van versamelings te bevorder en aan te moedig, meer bepaald onder die Afrikaanssprekendes;
3.2. gereeld vergaderings te hou met die doel om diegene wat in een of ander aspek van filatelie belangstel, bymekaar te bring;
3.3. die belange van lede sover dit op hulle persoonlike versamelings betrekking het, te bevorder;
3.4. vervalsings en ander vorms van bedrog t.o.v. filatelie op te spoor en lede daarteen te waarsku;
3.5. junior versamelaars te help en aan te moedig, vernaamlik deur die stigting van junior afdelings in die Vereniging;
3.6. lede te help deur fasiliteite te verskaf vir die verkoop of koop van filateliese materiaal, byvoorbeeld deur die rondstuur van op sig-boekies, deur uitruil van posseëls, deur veilings of enige ander middel;
3.7. filateliese leesstof en apparaat vir die gebruik van lede aan te skaf;
3.8. enige diens te onderneem vir die bevordering van filatelie en die doelstellings van die Vereniging;
3.9. uitstallings te hou; en
3.10. met ander bestaande verenigings saam te werk ter bevordering van filatelie in die algemeen.
Artikel 4: Magte
Die Vereniging besit die reg om;
4.1. by enige plaaslike, nasionale of internasionale liggaam aan te sluit of te affilieer, mits so ‘n stap deur ‘n gewone meerderheid van die teenwoordige stemgeregtigde lede op ‘n gewone algemene vergadering goedgekeur word;
4.2. aankope namens lede te doen;
4.3. reëls vir die beheer van uitstallings ern ander items onder Artikel 3 genoem, op te stel en uit te voer.
Artikel 5 Regspersoonlikheid
5.1. Die Vereniging is ‘n liggaam met regspersoonlikheid sonder winsoogmerk en die inkomste en eiendom van die Vereniging, uit welke bron ook verkry, word uitsluitlik aangewend vir die bevordering van die doelstellings soos omskryf in Artikel 3.
5.2. Alle bates van die Vereniging moet in die naam van die Vereniging gehou of geregistreer word.
5.3. Die inkomste en eiendom van die Vereniging moet alleenlik aangewend word vir die bevordering van sy doelstellings en geen gedeelte van die inkomste mag aan enige lid of lede direk of indirek oorgedra word nie, met dien verstande dat niks wat hierin vervat is die betaling van bona fide vergoeding aan enige beampte van die Vereniging of aan ‘n lid met die oog op enige diens wat in werklikheid aan die Vereniging gelewer is, verhoed nie.
5.4. Die Vereniging het die bevoegdheid om in sy eie naam te dagvaar of ‘n aksie te verdedig. Die magtiging om geregtelike stappe in te stel of te verdedig moet onderteken word deur die Voorsitter en Sekretaris wat afsonderlik die bevoegdheid het om die Vereniging in al sodanige verrigtinge te verteenwoordig.
Artikel 6 Lidmaatskap
6.1. Lidmaatskap van die Vereniging, onderhewig aan die bepalings van hierdie Grondwet, is oop vir almal.
6.2. Kategorieë: Lede word in die volgende kategorieë verdeel:
6.2.1. Gewone lede, wat die Verneniging as hulle tuisvereniging aanvaar en by die Filateliese Federasie van Suid-Afrika (FFSA) geaffilieer is. (die tydskrif van die Federasie deur die Vereniging ontvang)
6.2.2. Gewone lede (Buitelede), wat lede van ‘n ander filatelievereniging is en dit as hulle tuisvereniging aanvaar en via daardie vereniging by die FFSA geaffilieer is. (die tydskrif van die Federasie deur daardie vereniging ontvang.)
6.2.3. Genote (Erelede) wat as (is) persone of liggame (wat) as gevolg van lang en waardevolle diens in belang van die Vereniging of van filatelie in die algemeen, by ‘n algemene vergadering eenparig as Genoot (erelede) van die AFP verkies word; hierdie persoon het die reg om die letters GAFP agter sy/haar naam te skryf.
6.2.4 Juniorlede, wat nog skoliere of bona fide studente is en wat nie stemgeregtig is nie, behalwe in hulle afdelings as dit tot stand sou kom.
6.3. Toelating tot lidmaatskap. Aansoek om lidmaatskap geskied deur ‘n voorgeskrewe vorm te voltooi wat, vergesel van die voorgeskrewe lede(- en intree)geld, aan die Bestuur vir goedkeuring voorgelê word. Die Bestuur het die reg om, sonder verstrekking van redes, ‘n aansoek te weier.
6.4 Beeindiging van lidmaatskap
6.4.1. ‘n Lid kan sy lidmaatskap beeindig deur skriftelik daarvan kennis te gee.
6.4.2. Die Bestuur het ook die reg om die bedanking van ‘n lid te eis as sy optrede of gedrag teen die belang of doelstellings van die Vereniging indruis of tot nadeel van filatelie strek. As so ‘n lid nie binne 14 dae self bedank nie, word hy as lid geskrap met dien verstande dat hy die reg het om binne 7 dae na kennisname van die opsegging van sy lidmaatskap, aansoek te doen om sy saak persoonlik vir heroorweging voor die Bestuur te lê. Die beslissing van die Bestuur is finaal.
6.4.3. ‘n Lid se lidmaatskap word beeindig indien hy, nadat hy daartoe gemaan is, nie sy ledegelde betaal het nie.
6.5. Hertoelating. ‘n Persoon wat voorheen lid van die Vereniging was, mag om hertoelating aansoek doen. Dieselfde prosedure as met voornemende nuwe lede moet gevolg word.
Artikel 7 Finansies
7.1. Die finansiële jaar strek van 1 Januarie tot 31 Desember.
7.2. Die Bestuur stel jaarliks ledegelde vas. Genote (Erelede) word van die betaling van ledegelde vrygestel.
7.3. (Die Bestuur bepaal die intreegelde wat by aansluiting deur nuwe lede of heraansluiting deur voormalige lede betaalbaar is.) Die Vereniging betaal die affiliasiegeld van Genote by die FFSA.
7.4. Die Bestuur aanvaar verantwoordelikheid vir die bates van die Vereniging.
7.5. Die Bestuur open een of meer rekening(e) by ‘n geregistreerde finansiële instelling. Tenminste twee handtekeninge word vereis om onttrekkings uit sodanige rekening(e) te maak.
7.6. Die Bestuur dra sorg dat die boeke van die Vereniging jaarliks geouditeer word. ‘n Gewone vergadering wys ‘n lid aan, wat nie in die Bestuur dien nie, om alle boeke en finansiële state van die Vereniging en sy sub-komitee(s) na te sien en by die Algemene Jaarvergadering verslag daaroor uit te bring.
Artikel 8 Bestuur
8.1. Die sake van die Vereniging word beheer deur ‘n bestuur wat soos volg saamgestel word:
8.1.1. Voorsitter.
8.1.2. Ondervoorsitter.
8.1.3. Sekretaris.
8.1.4 Tesourier (Penningmeester.)
8.1.5 Rondsenddienshoof.
8.1.6. Redakteur Nuusbrief.
8.1.7. Bibliotekaresse.
8.1.8. Beskermheer – Die Jong Filatelis.
8.1.9. ‘n Maksimum van drie addisionele lede, soos deur die Bestuur aanbeveel en deur die Algemene Jaarvergadering vasgestel. Een Bestuurslid mag meer as een amp beklee, met die veronderstelling dat daar ten minste vyf betuurslede is.
8.2. Die Bestuur word jaarliks tydens die Algemene Jaarvergadering gekies.
8.3. Indien ‘n ampsdraer gedurende sy ampstermyn bedank of om ander redes ophou om ‘n lid van die Bestuur te wees, het die Bestuur die reg om die vakature vir die onverstreke tydperk te vul.
8.4. Die Bestuur het die reg om sub-komitees aan te stel.
8.5. Die Bestuur vergader so dikwels wat dit nodig is (hy dit nodig ag.)
8.6. Drie van die Bestuurslede plus een vorm ‘n kworum.
Artikel 9 Vergaderings
9.1. Gewone algemene vergaderings vind maandeliks plaas, behalwe in Desember.
9.2. Algemene Jaarvergaderings word een maal per jaar gehou op ‘n tyd deur die Bestuur bepaal:
9.2.1. Tien lede of 50% van lede plus een lid (waarvan ten minste 2 bestuurslede) vorm ‘n kworum.
9.2.2. Die Bestuur moet tydens die Jaarvergadering ‘n jaarverslag en finansiële verslag voorlê;
9.3. Spesiale Algemene Vergaderings moet belê; word binne 14 dae na ontvangs van ‘n skriftelike versoek aan die Bestuur en geteken deur minstens 10 lede. Die vergadering moet binne ‘n redelike tyd daarna plaasvind. In die versoek moet die doel van die vergadering uiteengesit word en geen ander saak mag op so ‘n vergadering behandel word nie.
Artikel 10 Huishoudelike Reëls
10.1. Die Bestuur stel huishoudelike reëls op vir sy vergaderings, werksaamhede en vir die komitees wat deur die Bestuur verkies of aangestel word.
10.2. Hierdie reëls mag nie in stryd met die bepalings van die Grondwet wees nie.
Artikel 11 Wysiging van Grondwet
Hierdie Grondwet kan alleen gewysig word deur ‘n korum (Art 9.2.1.) wat op ‘n Algemene Jaarvergadering of op ‘n Spesiale Algemene Vergadering teenwoordig is.
Artikel 12 Ontbinding van die Vereniging
Indien die Vereniging ontbind word, word alle eventuele bates geskenk aan (gelyk tussen die volgende filateliese instellings verdeel: die Poskantoormuseum, die Filatelie-afdeling van die Kultuurhistoriese Museum en) die Filateliestigting van Suider-Afrika.
Ons geskiedenis is opgeteken in ons feesblad: AFP 70 Jaar – 1951 tot 2021